© 2012 . All rights reserved.

2012 Absa KKNK foto’s

Vanjaar se Absa KKNK is reeds iets van die verlede maar met die lekker winterreën wat vanaand uitsak hier in Oudtshoorn dink ek terug aan daai besige tyd van die jaar vir ons Oudtshoorniete. Ek het goeie fotografiese herinneringe aan kunstefeeste – my heel eerste gepubliseerde foto (in die Saturday Star toe ek ‘n student by die Market Photo Workshop was) is destyds by die Arts Alive kunstefees in Johannesburg (dink dit was 1992) geneem.

As feesfotograaf bied die kunstefees jou as fotograaf die geleentheid om besonderse goed te sien en te beleef. Dit gee my ook die geleentheid om te sien hoe my foto’s vergelyk met die van die professionele fotograwe uit die stad wat dikwels dieselfde vertonings afneem – ja, reality therapy is goed vir jou!

Dikwels is van die produksies en kunswerke van so ‘n aard dat jy amper net jou kamera in die rigting van die verhoog of uitstalling hoef te swaai en die sluiterknoppie ‘n klompie kere moet druk en jy’t klaar iets moois vasgevang. Maar daar is ook uitdagings – die grootste hiervan is gewoonlik die min lig wat tipies tydens dramavertonings beskikbaar is, en die feit dat jy nie die feesgangers se vertoning wil bederf met jou gekliek-kliek nie – ek word maklik geïntimideer deur kwaai kyke 🙂 En dan partykeer besef jy jy sien magic gebeur hier voor jou – en dat jou foto nou justice moet laat geskied daaraan. Van die produksies wat my vanjaar so laat voel het was Jaco Bouwer se Rooiland en Nicola Hanekom se Babbel – o ja, dan was daar ook Handspring Puppet Company se puppets saam met die visuele kunste uitstalling van Sandra Hanekom.
So toe JC my vra om vir Jaco Bouwer, Rooiland se regisseur sowel as vir Nicola Hanekom van Babbel af te neem het  ek bietjie meer nerveus as gewoonlik gevoel 🙂

Hieronder is paar van vanjaar se gunstelingfoto’s. Daar’s ook ‘n klomp op die Absa KKNK se webtuiste vir die wat belangstel om te loer.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published.
Required fields are marked:*

*